Table of contents
Share Post

Ek skryf op ‘n kleitablet, ‘n verhaaltjie van ‘n hek magneet. Jinne mense, maar soms kan mens so verskriklik sukkel. Dis amper soos om ‘n kruiwa op jou rug te dra.
So jaar nadat ons ingetrek het, het ons die voorreg gehad om ‘n palissade heining op te sit, met ‘n lekker lang hek. Met ‘n motor en al. Ja, daardie wat jy ‘n knoppie druk en poef, na 5 sekondes het jy ‘n oop of toe hek. Dit was vir my as predikant se kind ‘n wonderlike gebeurtenis. Wou nog die bure oor nooi om saam met my ‘n bierbotteltjie teen hek te breek. Iets het my darem weerhou, die Gees werk op wonderbaarlike maniere.
Die hek het gewerk. My skoonpa se Cruiser het hom eenkeer bygekom, maar ek het hom dadelik vergewe. Hy het vir my ‘n wonderlike vrou groot gemaak. Die aarde het aangehou vaar om die son en hek het links en regs gegaan. Totdat dinge begin “skeef” loop, of eerder onwillekeurig. Sonder rede sal hy oop maak terwyl hy moet toe wees. Dit was ‘n vloekende frustrasie toe ons vertroulike buurman laat weet het, die hek staan oop en ek oppad werk toe moes terug draai.
Vir lank het ek op eie stoom probeer om hierdie hek te repareer. Hom goed geolie, gekyk dat spoor skoon is, sy limiete oor en oor ingestel. Hy sal vir ‘n ruk mooi werk en dan weer oop as hy moet toe. Goed moedeloos, het ek maar beplan om geld op hierdie probleem te gooi. Ek bel ‘n goeie vriend by die kerk, wat my verwys na ‘n hekmotor spesialis, ‘n man wat kan toor met elektrisiteit. So kry ek díe man op die lyn om ‘n afspraak te maak, maar hy diagnoseer net daar die probleem. Ek bedank hom versigtig, nog nie seker of dit gaan help nie.
Hierdie halsstarrige hek word, met die nuwe raad, ondersoek. En sowaar, die magneet teen die hek is te ver van die motor se sensor. Net ‘n los en vas draai van twee boute en die hek loop nou weer soos stroop en bly toe wanneer ons dit verlang.
Mag ons elk ‘n gees van ‘leerbaarheid’ kweek, die nederigheid om vir hulp te vra, maar meer as dit mag ons nader beweeg aan ons Skepper, dinge werk net soveel beter binne Sy wil.

“Kom gesels saam?”

“Ons deel daagliks gedagtes, vra vrae en ondersteun mekaar as mede rowwe voorstellings van die Een, op ons Facebook page. Word deel van die gemeenskap en stuur ‘n boodskap as jy wil gesels!”

Stay in the loop

Subscribe to KleiTablette for free.

Willem Pretorius