Table of contents
Share Post

My liewe Moeder, ja die berugte ouetehuis vlugteling, het net nou die dag weer kom beskuit bak. Dit laat my sommer terug dink aan die tyd toe ons ou mense goed gegrendel was, en ‘n klomp vasgepende herinneringe glip in die bewuste. Ek kan nie anders as om te gryp na ‘n klomp sagte klei.  

So tussen die karring en botter smelt, vertel Moeder vir my wat sy nou eintlik dink van my ‘Goue Skape’. Sy is nie te vol lof nie, nog altyd ‘n Ma van min lof. Dit pla my nie eers nie, want ek weet waar my lof vandaan kom. Sy vat my wel vas oor al die kras woorde wat ek gebruik het. Gelukkig kon ek met ‘n flink-dink-antwoord verduidelik dat dit beskrywend is van die kruheid van ons mens se sonde. Met dankbaarheid weet ek God neem ons met ons kras, skurwe kante, solank ons bereid is om onsself te onderwerp vir sy skawing en vernuwing.  

Ek is bly sy kuier by ons, sy sal altyd ons nommer een ondersteuner bly. 

Met vars gebakte beskuit goed verseël in tupperware bakke vir die winter (nee ek speel, dit hou net vir 3 weke), kan ons nie anders as om die eerste dip-toets te doen nie. My Ma se resep is soos sneeuvlokkies, anders elke keer, maar hierdie baksel is weer ‘n treffer en ons geniet dit saam met ‘n stomende palet skoonmaker – moerkoffie. So sit ons in die TV-kamer wat voorheen die eetkamer was.  Ons het BC, ja dit is ‘n nuwe term vir ‘Before Covid’, besluit om die argitek se idee vir ‘n eetkamer te omskep in ‘n TV-kamer. En vir praktiese redes (NC – Na Covid) wou ons weer ons leef vertrek omskep in ‘n TV/Sit-kamer. Bid asseblief saam met ons, want daar is meer planne in die pyplyn vir hierdie einste vertrek? 

So nou dat die huis se planne weer volgens die argitek se bedoeling is, vind ons met die skuif-wery, oorblywende kaartjies van die kerk in die TV-kas se laaitjies. Dis kaartjies wat in lock-down uitgedeel is vir ons kleingroep lede, wat gebruik was om inligting te deel wanneer ons by mekaar gekom het om saam na die aanlyn diens te kyk. Op hierdie kaartjies was al die nuwe aanlyn adresse en inligting op, sodat ons digitaal kan voort gaan met kerk, terwyl ons nie fisies bymekaar kom in die kerkgebou. Dit het ook onder ander ‘n Zapper skanderingskode opgehad sodat mense maklik ‘n bydrae kon maak. Ai die dae van onsekerheid. Dinge was darem maar goed geskud, deur een klein saamgeflanste kiem.  

Ek wonder, hier terwyl ek met ‘n bondeltjie klei speel, hoe het hierdie epidemiese pandemie jou geraak, maar meer hoe het dit jou verhouding met ons Skepper beïnvloed? 

Vir my persoonlik, het ek besef hoe belangrik dit is om tyd, intiem met God te spandeer, in Sy woord en in gesprek met Hom. God het meer en meer persoonlik geword deur daardie tyd, soos ‘n goeie vriend wat nét altyd weet. En omdat God persoonlik geword het, wil ek meer by Hom gaan kuier.  

Ek hét voorheen ons honde se toilet gewoontes vermeld in ‘n ander Ingelse storie – ‘The Black Block‘, maar ek moet ergerlik erken, dit slat my nog steeds soos ‘n nat tuna teen die neus as ek sien hoe hulle kan bolle rol. Ek kla nie, maar dit breek my hart in ‘n miljoen klein stukkies. 

Ek stap nou die dag saam met ‘n kliënt kar toe, na ‘n geseënde sessie – dankie Vader vir die geleentheid om mense te mag lief hê op U spesiale manier. Die dag was al meer skemer as son en oppad bespeur ek een van die einste pyn-in-die-patat landmyne wat ons Staffies strategies los. Jinne maar ek is briesend, ek het net voor die tyd die kinders gestuur om te loop skoon maak.

Ek begin dadelik om ons trajek van aanval op sy kar met my aura te skuif sodat ons hierdie netelige sakie kan mis. Maar soos ek kant toe loop en fokus op Bella of Biscuit se gemors, mis ek ‘n tweede wip, en net voor die kliënt my lewe kan red deur my uit die pad te stamp, trap ek in ‘n warm stuk verwerkte Montego. Ja, Stienie werk ongelukkig nie meer vir Eukanuba nie, so ons moet self die honde aan die lewe hou, en Eukanuba is buite ons budget.  

In daardie oomblik besef ek, soos tant Driekie altyd sal sê, hoe belangrik dit is om ons eie verhouding met God, in alle nederigheid, bo enige ander verhouding te koester. Terwyl ek hier sit en kwyl vir koeksisters glimlag ek lekker, God het maar net ‘n spesiale manier om ons lesse te leer. Ek kan nie ander uit die gemors help as ek self besig is om in die stront rond te trap nie.  

Moeder, baie jammer vir die kras woorde, maar ek glo dit is gepas. 

“Kom gesels saam?”

“Ons deel daagliks gedagtes, vra vrae en ondersteun mekaar as mede rowwe voorstellings van die Een, op ons Facebook page. Word deel van die gemeenskap en stuur ‘n boodskap as jy wil gesels!”

Stay in the loop

Subscribe to KleiTablette for free.

Willem Pretorius