Net nou die dag staan ons op en maak gereed om die wa te laai vir ‘n kort trek na die plaas. Jong, laat ek julle vertel, die plaas is te vêr vir ‘n gholfspeler om die oggend ‘n 7 uur afslaan te maak of om ‘n tandeborsel te koop by Clicks vir ‘n onbeplande braai en oorslaap. So nou pak ons maar ‘n paar koffers en ‘n vanity case.
Die kinders se torre swem al kant toe van blydskap om die vryheid van veld en horison te gaan kruis in die alomteenwoordigheid van ‘n trop niggies en nefies. Dit is vir my mooi ja. Die klomp speel so lekker in die ruimte van vyf-ry doringdraad lyne, hulle gaan sommer saam toilet toe, ja in die veld. Klere kom altyd terug met ‘n klomp hakke en gate, so jy pak die klere wat oorgedra moet word aan die jonger niggies en nefies. Slaap-tyd kaskenades in die vars lug van die platteland, is soos om varke van kamp te verskuif – jy jaag hier in dan hardloop een anderkant uit. Dit is ‘n ander tipe frustrerende lekker. Maar die onvergelykbare vrede, wanneer daai energizer bunnies se battery gepluk is, en die donker stilte ons omvou, dit vang my nog elke keer, dis asof jy daaraan kan vat.
Wag eers, ek gooi nou ‘n kleitablet af in die pad sonder om te verduidelik waar die gier vandaan kom om hand aan die griffel te slaan. Ek ploeg die laaste tyd moeilike met ons jongste seun, wat graad vier geslaan het en die vlak van sy intelligensie het ewe skielik eksponensieel gegroei. Soveel so dat hy dit per ongeluk agtergekom het en met eens is dit asof ek en Vroulief nog nie vuur ontdek het nie. Ons praat nie eers meer dieselfde taal nie. Dit lyk soos die kommunikasie van ‘n laerskoolkind en ‘n sjimpansee op ‘n dieretuin uitstappie, en ons is die sjimpansees – PALM IN DIE GESIG.
Hierdie Y-chromosoom afstammeling van my sou al kon aftree as die lewe ‘n vasvra kompetisie was, want hy het ‘n antwoord vir alles. Soms vra ons nie eers ‘n vraag nie, dan antwoord hy nog steeds. Nou die dag gaan kyk ons lui leeus by die Leeu park. Ek noem daardie leeus in die afgebakende kampe lui, want hulle kry hulle ribs en tjips met UberEats, net sonder die tjips. Daar ry ons nou lekker rond en bekyk die diere van naderby. Die klein kalant weet natuurlik hoe lank en waar ons moet gaan kyk. Ek weet nie of hierdie iets is wat ek al voorheen by vroulief gewaar het nie. Maar van ons jaar sewe van fantastiese getroude lewe geslaan het, het sy ewe skielik verander, niks meer agter-bek-bestuur nie. Nee ek speel net. Sy doen dit steeds, ek het net my houding verander, ek sien dit as positiewe en opbouende kritiek op my patetiese bestuursvernuf. So daar sit ons met iemand wat baie stemmig is oor safari etiket. Seën sy leeu hart!
Ek glo dat hierdie seun van ons besig is om ‘n nuwe fase van onafhanklikheid te bereik en in die proses sy eie unieke, wag kom ons herhaal hoe uniek hy is, kombers in die somer voor die TV, bovril en konfyt op sy toast, broek tot onder sy pekkies, hare sonder kam na skool, twee sekonde storte want daar is rugby op die tv, altyd singende en kommentaar lewerend, altyd gereed om enige iets te verorber (hy eet tot die jaar oue Rascals wat tussen die kar se banke ingeval het), unieke identiteit te vorm.
Terwyl ek hierdie in eerlikheid skryf, besef ek net weer hoe lief ek ons kosbare bruistablet het. Op die plaas is hy ‘n ander mens, dit is asof hy in sy natuurlike habitat is en dan is hy ‘n seun van die aarde en kan mens sy liefde vir diere sien, sy omgee vir ander, in die manier hoe hy met sy familie omgaan.
Dit moet wees dat my frustrasie, wanneer hy die grense toets met sy kreatiewe streke, is tog ‘n les in geduld en aanvaarding, terwyl hy die seun word, die seun wat God ons gegee het. Meer as dit, ek besef wanneer hy sy uiterste probeer om homself te wees en dit nie strook met my verstaan van my eie ‘natuurwette’ nie, is dit gewoonlik ek wat aan my outoriteit probeer vashou vir ‘n eiesinnige rede. ‘n Selfsugtige rede.
God het hierdie Karnallie meer lief as wat ek sal verstaan.
Dit maak dat ek stil raak voor my Vader, die Een wat my geskape het en besef dat ek vir lank dieselfde tipe lawwe streke opgedis het om in te pas in ‘n wêreld waar dit voel dat ek nie pas nie. Hierdie jaag na aanvaarding en raaksien het baie van my identiteit gevorm en die aandag het soos ‘n dwelm geraak. Totdat ek oor jare en goeie genade besef het dat dit nie volhoubaar is nie. Daarom kan ek stil raak voor Hom wat my gemaak het en erken dat ek is wat Hy bedoel het ek moet wees. ‘n Kind wat geklee is in geregtigheid.
Daarom trek ek elke dag NEDERIGHEID aan en aanvaar dat ons Vader elke persoon onmenslik lief het, maak nie saak waar hy of sy op reis is.

