Table of contents
Share Post

Ai maar die lesse kom op die oomblik soos ‘n hoëveld storm, hard en aanhoudend met blitse en strale, geen genade. ‘n Mens word sommer klein as jy jouself in die middel van ‘n waarheid storm bevind terwyl die Almagtige met jou praat – soms in ‘n fluistering tussen die stilte van twee donderslae, soms soos ‘n klip voor die kop of is dit ‘n skalpel tussen siel en gees. Maar hoe dit ook al sê, die genade van ‘n leerbare gees is soos ‘n onverwagse ‘valentines’ briefie van die nooi wat jy ‘laaik’ maar gedink het sy weet nie eers jy bestaan nie.

So toe die aarde goed gesous word in die nat seën van ons hemelse Vader, gaan loop haal ek maar die griffel en kleitablet, want hier is genoeg waarheid vir elke hoorder wat bereid is om te hoor.

Ons lewe stap voort en ek maak nie verskoning dat ek so lank laas ‘n brief geskryf het nie, maar Eskom stap die laaste tyd twee tree agter toe en een vorentoe – ek dink hulle moet meer gaan sokkie by Presleys en die krag maak los vir die ouens wat weet hoe. Maar daar gelos, aangesien ek wetenskap met genade geslaag het.

Daardie selfde Genade het ons die voorreg gegun dat ek en vroulief van die huis af kan werk. Hoe dan nou gemaak as Eskom die krag elke dan en wan af skakel?

Jy bel ‘n ou vriend wat sy wetenskap met lof geslaag het.

Die vriend maak ‘n plan en skep die son se energie in die dag en tap dit in ‘n battery in. Siedaar ons krag probleme is iets van die verlede. Nou karring ek en Vroulief lekker aan op sonkrag.

Nou sit ek hier en tik vrylik op my son aangedrewe kleitablet en dit verras my oor die oorvloed energie wat onder my vingers lê. Dit genereer ‘n fantastiese vrede en diepe dankbaarheid. Ek gebruik hierdie oorvloed energie ook sommer nou meer vrylik as van tevore. Jy sal my nie glo nie, maar ek kry dit nie alles op gebruik nie. Voorheen sou ek probeer alles doodmaak as dit lyk of dit krag wil gebruik. Kinders is streng leviete gegee oor ligte afsit. Verwarmers is weg gepak en komberse is aangeskaf. Maar nou is dit asof die oorvloed energie my meer rojaal laat lewe – meer vrygewig om toe te laat dat die energie deur ons bedrading vloei na plekke waar dit gebruik kan word.

Maar mag ek nooit voor op die wa probeer sit nie, tog laat hierdie oorvloed energie my dink aan iets wat ons soms mis oor ons hemelse Vader se genade en liefde. Besef ons waarlik hoe oorvloedig dit is?

Hoe is dit moontlik dat ons soms ‘n limiet plaas op wat God kan doen met sy liefde en genade vir sy skepping, juis deur my. Ja, Sy liefde is ewig-gewend, oorvloedig en raak nooit op nie. Jesus is die bron van liefde en dit is Sy liefde wat ons vrylik aanhou ontvang soos die strale van die son. Liefde wat ons uit dankbaarheid kan omskakel in dade van deernis.

Ons kan sonder voorbehoud vergewe, as ons weet ons ontvang self oorvloedig vergifnis.

Ons kan sonder end genade bewys aan hulle wat ons seer maak, as ons weet ons ontvang nimmereindigende genade vir wat ons doen aan ander.

Ons kan onvoorwaardelik lief hê, as ons weet ons is omvou met Jesus se onvoorwaardelike liefde.

Ons kan die lewe in oorvloed geniet, as ons weet dat ons lewe nooit eindig en dat Hy wat lewe gee, nog meer as onmeetbaar aan ons WIL gee – aanhoudend en vol gestamp.

Hierdie oorvloed lewe is vrylik beskikbaar, al wat ons moet doen is om ons panele na God te draai. Onthou net dat energie wat nie omgesit word in krag kan ook net vir so lank gegaar word – dit moet gebruik word.

Mag die liefde en genade van God deur jou vloei soos ‘n elektriese stroom in die kragtige uitwerking van die Heilige Gees in jou. Mag mense om jou sien hoe jou ‘huis’ se ligte brand terwyl die buurt in donkerte sit.

“Kom gesels saam?”

“Ons deel daagliks gedagtes, vra vrae en ondersteun mekaar as mede rowwe voorstellings van die Een, op ons Facebook page. Word deel van die gemeenskap en stuur ‘n boodskap as jy wil gesels!”

Stay in the loop

Subscribe to KleiTablette for free.

Willem Pretorius