Table of contents
Share Post

Reflekteer! Neem opname. Vat tyd om terug te kyk en jou te verlustig in die goeie guns van ons God. Na ‘n onverwagse terugflits het ek dit goed gedink om my hande weer ‘n bietjie vuil te maak met die glibberige, smerige klei wat uit die hart van ‘n oorwinnaarskind vloei. Geseënd die een wat hierdie kleitablet lees en toelaat dat dit u hart versag, sodat die waarheid ingeknie kan word, dat dit gebak kan word in die geregtigheidsoond van ons Vader. Mag die reuk van liefde hang in die kombuis van jou lewe, daar waar jy gaan stil raak en nog ‘n koppie troos skink, en die lewegewende broodjie dik smeer met botter en konfyt. Energie vir die goeie werke wat voorberei is deur die Klei-maker.

Hier na ‘n paar maande se lang werksweke, selfs ten spyte van die lang naweke en redding viering van ons Verlosser se meester offer, sit ek in my houthuis. Jip, die houthuis wat byna ‘n jaar terug vorm geneem het in ons agtertuin. Ek tik op die selfde rekenaar wat ons in geloof aangeskaf het, toe geld meer waardevol vir ons gesinnetjie was as toe dit vanselfsprekend verwag was.

Ek neem ‘n foto vanuit die bekende uitkykpunt van my lessenaar af teen die helling op, en dit herinner my aan vantevore. Dinge blyk om baie dieselfde te lyk. Selfs die koue is besig om terug te kruip soos ‘n hond wat uitgejaag is omdat hy aaklig gemaak het. Ek is nog steeds so geseënd soos ‘n jaar terug, soos daardie tyd toe God met sloping werk begin het – hierdie gemors wat ek op sand probeer bou het.

Die foto’tjie wat ek neem herroep meteens ‘n paar heerlike herinneringe. Daar het reeds ‘n paar keer se son-klim en son-sak plaasgevind. Met nostalgie ontwaak, gaan skarrel ek deur my digitale foto album vir ou foto’s van die selfde hoek. Terwyl ek blaai (“scroll”), besef ek hoeveel vreugde en seën daar tussen dan en nou lê. Begin ‘n onverwagse lofsang borrel uit my dankbaar keel. Hierdie nuwe hart is vol, ten spyte van die wêreld wat vir my leuens wil kom vertel van wie ek kan wees.

In hierdie terugblik begin waarhede uit die verloop van my verhaal los te wikkel en val dit soos skaap-vetjies op warm kole. Ons het tyd nodig om die oneindige Almag en goedheid van ons Vader te verstaan. Dit laat my opgewonde raak oor die vestiging van tyd in God se skeppingsdade. Daar waar  donker van lig geskei was om verloop te vestig. Nou kan ons die wonderlike masjinerie van God se plan besigtig, NEE ons kan dit beleef en lewe. Wanneer ons vertrou en in geduld beproef word, wanneer ons die bril van geloof op sit en fokus op die voleinder van ons skeppingsdoel. Want wanneer ons probeer kyk na hierdie bestaan in die vertroue op ons eie insig, word ons mislei deur die vyand wat rondloop en tjank soos ‘n hiëna. ‘n Hiëna wat soek vir prooi om te verslind, te steel of te kraak in die greep van sy wrede kake. Wandel ons in geloof, uit genade, dan sien ons ‘n heerskappy van oorwinning. Gaan buig ons in oorgawe en bewondering voor die ware Koning van alles. Dit was daar waar iets soos werkloosheid begin sin maak. Terugblikke is so perfek. Bring dit die lig op ons Vader se hande wat nooit vêr was. Werp al julle kommer op Hom.

Die foto’s wys my op geleenthede saam met ware vriende, glimlagte, kinderpartytjies, familie feeste en die natuur waarin ons Skepper vir ons sorg. Kyk ek dieper en langer sien ek nie veel wat verander het nie. Die mure staan nog, die bome en plante groei groen en die laat blomme-kleur steeds die prentjie fraai. Die voëls sing steeds en die hoep-hoep krap steeds in die gras, ons is wel ‘n Piet-my-vrou minder. Die gras moet steeds gesny word, blare opgehark word. Ons betaal ook steeds belasting vir onbesonne redes, die krag gaan elke nou en dan af. Ons is waarlik geseënd.

God was nog altyd hier. Hier in die houthuis kon ek nog elke keer Hom kom ontmoet. Vir elke keer wat ek my rug teen die ongehoorsaamheid van my eie-ek gedraai het en na Hom gedraai het, het Hy die sluier verwyder en my geseën met meer van Sy genade, geloof en liefde. So word ek verander en so wil ek nog meer van die vars nuwe lewe geniet. Smag ek nog meer na elke geleentheid om te soek en toe te laat dat die ‘boeie’ los gemaak word. Kan ek die krag van sy opstanding begin proe en vir ander daarvan aanbied. Bely my lippe, sonder skaamte, van oorwinnings oor dinge wat ek voorheen nooit moontlik gedink het.

Terug kyk bring ook ‘n blik op die paadjie vorentoe, want dit trek ‘n trajek lyn wat ek kan volg. Ek moet eerlik wees, dit is nie waarlik ‘n reguit lyn nie, maar een ding is seker, God se genade is verseker en konstant. Oomblikke waar die eenheid met ons Vader vir my toon hoe die toekoms kan lyk saam met Hom. In elke kuier, daar by die vuur in die grot agter die waterval word God se plan ‘n werklikheid. Elke keer as ek nie weet waarheen volgende nie, word ek bewus van die wolkkolom wat my omvou en die krag van die Heilige Gees wat van binne my stoot en soms trek, my nooit los en my verseker lei. Dit is in hierdie tye wat ek bewus word van die inwoning van God se Gees, hier in my binneste. Hoe meer ek luister en volg, hoe duideliker en gemakliker word die krag, amper soos die bou van ‘n verhouding. Ek is van plan om dik pêlle te word met hierdie Krag van God.

‘n Belofte word die laaste tyd op my hart gedruk, en ek weet die verwagting is alleen in geloof, dat ek ons Vader aangesig tot aangesig sal ontmoet. Daar waar ek nie meer kan sterf nie, sal my hoop nie beskaam word nie en weet ek hierdie dood sal my wins bevestig, sal ek die ewige lewe kan gryp as prys. Verlustig jou in God.

Met hierdie reis terug in tyd, vind ek nou weer moed, hoop en rede om aan te gaan. Neem ek die altare, waar God vir my geveg het, selfs daar waar ek Hom self nie eers vertrou het nie, weet ek beslis dat Hy ‘n plan het en dis nog nie klaar nie. Tyd sal leer. Hou dop, dinge is besig om te kook in plekke rondom ons, want ek glo dat die mense wil weet van die heerlikheid van God, die kennis van Sy volheid wat die aarde gaan vul soos die oseane. Ek weet God is besig om ‘n stad op te rig waar sy kinders hulle name sal kry en die Naamgewer se heerlikheid gewapper sal word soos ‘n menigte oorwinningsbaniere.

Wat vertel jou terug-kyk?

“Kom gesels saam?”

“Ons deel daagliks gedagtes, vra vrae en ondersteun mekaar as mede rowwe voorstellings van die Een, op ons Facebook page. Word deel van die gemeenskap en stuur ‘n boodskap as jy wil gesels!”

Stay in the loop

Subscribe to KleiTablette for free.

Willem Pretorius