‘n Kleitablet met ‘n oog op die toekoms. Dit is tog wat kleitablette is. Eendag gaan hulle hierdie kleitablette opgrawe of uit die wolk aflaai en dan besef, dat die mense van gister was nie so dom nie – hulle het geweet wat die toekoms inhou. Ek wil nou nie verwarring veroorsaak nie, maar dit is baie maklik om die toekoms te voorspel as jy skryf oor Iemand wat ewig konstant is en alles in Een is. Ek knipoog nou met lekker genot vir myself oor hierdie openbaring…
Noudat ek al my klappers op een slag geskiet het, moet ek seker bietjie ruimte inkleur. Daar is net soveel dinge waaraan ek my laaste paar weke se ervarings kan hak om duidelik te maak waarmee Vader besig is in my lewe. Maar die volgende een het immers ‘n groot impak gehad op my klein wêreldjie. Soveel dat ‘n kleitablet net nie genoeg spasie het nie, daar is nie genoeg klei om die goedheid en guns van God uit te griffel. Dit het wiskundige terme, feestelike verhoudings en ‘n nuwe roeping, waarvan julle al ‘n druppel gesien het.
My lewe was baie kortsigtig, soos om by ‘n venster – wat uitkyk op ‘n oorrompelend pragtige vista, te sit met die gordyn toegetrek. So daar het ek in die donker gesit en probeer om die lewe volgens myself te lewe. Tasse vol self regverdige kennis en verskonings oor hoekom ek nie die gordyn kan oop maak nie – BAIE vies dat ander mense die oorsaak is vir die donker rondom my. Die lig daar buite het ewig helder geskyn. As jy wiskunde ken, en verstaan wat ‘n konstante is, hoop ek hierdie maak vir jou sin, want dit is die beste manier hoe ek konstant kan beskryf in ‘n altyd veranderende wêreld. God is konstant, ek is ‘n veranderlike.
COVID en sy kleinniggie, Corona, of hoe dit ook al sy, het getref en as dit nodig was om Konstant te kom ten toon stel, was dit ‘n goeie trefslag vir my. Ek dra altyd, in gebed, die hartseer en innige meegevoel saam met almal wat lei in hierdie veranderlike wêreld as gevolg van díé virus. Konstant is steeds konstant en Hy is die enigste een wat sin, cos en tan uitmaak van wat aangaan op die oomblik.
Dit het in hierdie tyd, die eerste ‘lockdown’ – level 5, gebeur dat ek my werk moes laat gaan. Soveel veranderlikes wat ‘n rol gespeel het, en nou, binne in hierdie penarie, was ek EERS kwaad en verbouereerd. Verlore is wanneer jy vir die eerste keer, sonder GPS by ‘n dorp opdaag, waarvan die naambord al in negentien vier en sewentig soek geraak het, en jy nie weet watter pad om te vat deur die dorp na jou volgende bestemming nie. Dit is nie wat ek gevoel het nie. Díé virus was op daardie oomblik ‘n buffer en verligting, want ek was nie alleen verlore nie – hoe onmenslik hartseer.
Vroulief het aangegaan werk van die huis en sy het aangehou ‘n konstant te wees vir ons gesin. Ek kon nou help met die kinders en die dingetjies wat nooit om die huis gebeur het nie. Maar dit het nie ‘n salaris gemaak nie, dit het gehelp dat ek kon besig bly.
Met wonderlike ondersteuning en voorsiening vir ‘n paar maande het ons gesin saam getrek, terwyl ek in absoluut ontkenning voorgee om sterk te wees. Die voorsiening van ‘n pakket, het ons beraam, sou ons vir drie maande kon kom klaar sien. So dit was met nood-plannetjies dat ek hard begin werk soek het, selfs die tekens van geleenthede het gestuur gelyk, maar dit was nog nie Konstant se plan nie. Drie maande het verbygegaan, maar die bankrekening was nie klaar nie.
Gelukkig het ek in die gespokery, die basiese beginsels wat vasgemaak was deur my opvoeding, ou-tamaties dinge laat reg doen – familie en vriende gevra om in te tree by ons Vader, terwyl ek nog in ‘n donker kamer probeer om hierdie netelige sakie te verwerk.
Aan gekruie soos ‘n man wat bakstene dra met ‘n kruiwa op sy rug. Ek het reeds kontant uitgegee op ‘n houthuis in vertroue van ‘n vinnige verandering in omstandighede. As jy nie van die houthuis weet nie, kan jy bietjie op my Facebook blad gaan loer. Hierdie was reeds Konstant se werk, wat besig was om klippe weg te rol en ‘n pad te maak, asook ‘n vlagpaal op te sit waaraan Sy heerlikheid gehang sou word. Ons het ‘n groep mense waarvoor ek ewig dankbaar is, soos ons by die kerk jubel, #jougroepisjoulewe. Gebede het gevloei van baie oorde. Tog het ek met ‘n toe gordyn probeer vashou aan koue verstaan en eie krag, so asof ék konstant was.
Die houthuis was ‘n stoorkamer vir twee beddens en matrasse aan die begin. Met die kinders wat mal los rond gehardloop het omdat niemand geweet het dat kinders immuun is teen die virus nie, het ek gaan stil word in die houthuis, op ‘n onoorgetrekte matras op ‘n houtbed. Ek het begin bid, want ek was nie meer seker wat om te doen nie. Ek het gebid en my rympie opgesê, net ‘n bietjie harder want dinge wou nie gaan soos ek wou gehad het nie. Dae het aangebid en op ‘n stadium het ongeduld Konstant uitgedaag om my te antwoord. Dit was stil, en op ‘n dag het ek weer gevra, en dit was stil, op daardie oomblik het ek deur al tien die fases van rou gegaan, ek weet hulle praat van vyf, maar hulle het nog nie hierdie situasie ontleed nie.
Aan die einde het God my ‘n ligte ‘tikkie’ op my kop gegee en gevra dat ek Hom sal begin prys en aanbid in die houthuis. Dit was eers bietjie ‘weird’, soos my seun sou sê, maar ek het opgestaan en begin om saam met die musiek op my foon te ‘praise’ en ‘worship’. Dit was in daardie oomblikke dat ek net besef het hoe vêr weg van God ek gedryf het, ek die veranderlike. Ek het op ‘n stadium in snot en trane op my knieë geval en vir God gevra om my heel te maak. Hy het vir my duidelike gewys uit Romeine 8:1-2, dat ek reeds heel was maar net nie so gelewe het nie. Nadat die Gees my wêreld omgekeer het, kon ek saam met Konstant kuier asof Hy saam met my in die houthuis gebly het. Moet my nie verkeerd verstaan nie, dit het al voorheen gebeur, die verskil is hierdie keer het ek iets daaraan gedoen, en die aftyd gebruik dat Hy my transformeer. Daar is soveel dinge wat ek nog kan deel, en as jy tyd het, kom drink koffie in my houthuis, Konstant daag konstant nou hier op.
Op my huidige reistog deur tyd en ruimte, terwyl ek elke geleentheid om buite tyd en ruimte saam met Konstant aan te gryp, besef ek dat ons baie keer die verkeerde vraag uiter. Totdat Konstant my kom wys het wie is konstant en wie is veranderlik – wie is konstant goed, konstant regverdig, konstant liefde, konstant voorsienigheid, konstant God, net plein Konstant.
God het dit vir my kom duidelik wys nadat ek vir Hom gevra het wat Hy wil hê en nie wat ek wil nie. Wat wil Hy deur my doen. Nadat ek Sy wil eerste gestel het, het Hy my ‘n doel gegee, talente wakker gemaak en so ‘n week terug ‘n splinter nuwe werk. En ons seëninge is nog twaalf mandjies vol, nadat ons groot verbeterings aan die huis gemaak het en gelewe het in oorvloed en vrygewigheid van ons geestes familie. So as jy die toekoms wil sien, hou aan kyk na Konstant.
Hy is Konstant om hoop en vertroue te laat vrugte dra… ek hoop julle geniet die vrugte saam met my.

