Table of contents
Share Post

Skryf op ‘n oefen tablet, nie daardie goete wat alles meet en uitwerk en vir jou vertel hoe verdomp onfiks jy is nie. Nie dat ek so iets nodig het nie, my longe en sweetkliere laat my gou weet. Tog is dit so lekker om saam met Vroulief te gaan draf. Maar as sy eers begin draf dan kan ek nie help om haar te jaag. Dra my konkigge knieë my saam tot die olie eers goed gesmeer is.

Hier by ons rusplek is draf nou vir jou ‘n anders soort oefening. Dit is neffens die ysterberg, langs Marakele. Die doringbome groei so ryg dat die bokke begin ‘luiperd-kruip’. Die rooi sand so dik dat Defenders vas sit. Die goggas so volop  dat die geitjies en bid-sprinkane soos likkewane en miniatuur nonne lyk. Gaan liefs nie van die slange en ander gediertes praat nie. So draf ons saam, geseënd in die skadu van dik wolke. Waarlik oorvloedige reën vir die laaste twee dae. Noag sou begin ‘jitterig’ raak om hout te begin kap.

Begin jy draf is daar so ‘n trop vlieë wat agterna sweef soos ‘n swart wolkie. Die goed pla, maar dink so daaraan, dit is goed want hulle beweeg net teen die spoed wat ‘n rooibok wy. So jy hardloop vir dit weg, al die pad tot in die stort. Ek dink hier gaan nou ‘n generasie fikse vlieë wees op die plaas.

Draf en wild-kyk is nie alle tyd maklik nie, want jy moet jou voet neersit op die beste plekke. Jy kan lelik neer wetter, as gevolg van ‘n klip, sagte sand, modder, waterpoel en doringtakke (wat soms deur jou skoen pik, vra vir Vroulief). Dit sluit nou nie eers die gediertes in nie. Sommige kere ‘verskyn’ daar ‘n reuk van nêrens, “poef”, en as ek en vroulief vir mekaar onskuldig loer, dan weet ons vlakvark se kind draf saam. Mense, daardie modderige gediertes het ‘n nat-brak stank.

So, hardloop ons mik-mik om allerhande goete en takke, tot Vroulief my met ‘n hand teen die skouer stop. Voor ons troon daar ‘n seesand-kleurige dier met ligte oranje vlekke uit. Reg daar neffens, in die pad. Sy beloer ons, ons beloer haar. Sy beloer beter, vanaf haar troontjie. Ons kan sien dit is mevrou, want haar horinkies het poeier-kwaste. Soos ons stadig nader tree, draai sy om en grasieus begin sy weg te loop. Loop word statige draf, soos ‘n perd wat tydsaam hardloop, net bietjie groter. Ons stop weer, want aan die oorkant kom Ma se kalf rats agterna. Vroulief kry hoennervleis, en ek wil begin draf voor sy idees kry.

Kalfies en vulletjies, is alte fraai, maar daar is ‘n pad wat wag met ‘n stort aan die einde. Die natuur is skoon en die veld pronk mooi na die reën. Groen, ‘pop’ pragtig, so asof ons Skepper ‘n filter aanpassing gedoen het, net vir daardie ‘Instagram’ oomblikke. Terwyl die treë kraak in die sand, besef ek hoe selfstandig ons kosmos rustig voort leef. Vol vertroue weet natuur dat môre ook mooi gaan wees.

“Kom gesels saam?”

“Ons deel daagliks gedagtes, vra vrae en ondersteun mekaar as mede rowwe voorstellings van die Een, op ons Facebook page. Word deel van die gemeenskap en stuur ‘n boodskap as jy wil gesels!”

Stay in the loop

Subscribe to KleiTablette for free.

Willem Pretorius