Table of contents
Share Post

Ek skryf op ‘n kleitablet, ‘n nederige staaltjie, omdat díe nie ‘n verhaaltjie is nie. ‘n Verhaaltjie moet ‘n opening, verloop en ‘n ontknoping hê.

Eendag, redelik lank gelede het dit hard gereën. Veertig dae en nagte en die aarde, kontinente en oseane was nooit weer dieselfde nie. Hierdie is die waarheid, dit staan in die Bybel.
Nou ‘n paar jaar later, lyk Centurion op ‘n druppel soos daar neffens Clarens, maar met meer mense, huise en paaie.

Toe ons kom laer trek, amper ‘n dekade terug, net na Oom Paul, het ons gesoek vir ‘n huis wat gaan lekker leef, geen swembad, naby skole, met goeie gebeentes. Na ‘n kort ewigheid, betrek ons een wat bekostigbaar was. Een van hierdie huis se uitstekende voordele, is dat dit teen ‘n helling is, net soos daardie rollende klowe duskant Clarens. So besef ek, spyterste (nuwe kombinasie woord: uiterste en spyt), dat dit meer van ‘n gedoente is as ‘n luuksheid om oor die vallei uit te kyk. Elke jaar deporteer ek vlugteling grond aan die onderkant van die erf, terug na die bokant.

Die van julle wat kan saam praat, weet dat hierdie fenomeen, ‘n negatiewe effek op mure het. Die skeidings wat maak dat bure goed bly. Hierdie skeidings wil ook immigreer, maar word vasgeanker in die grond, so nou beur hulle skeef, saam met die helling. Die bome wat naby mure groot word, het ook nie respek vir skeidings nie, hulle is soos ‘hippies’ sonder grense. Maak net skade waar hulle gaan, onder die dekmantel van skadu en suurstof.

Ons vorige buurman het min gehelp, toe hy by die Jantjies moes bybly en ‘n swembad insit. Slimste van sy soort, het besluit om die swembad se grond teen ons skeiding op te vul, om sy helling probleem te oorkom. Drie agstes van daardie grond immigreer saam elke jaar, deur die ‘hippie’ gate.

Genoeg geteef. Ons spaar toe vir ‘n sesde van ‘n halwe eeu en sit die helfte van die boonste grens se muur op, die ander helfte het een van daardie ‘hippie’ probleme; ander dag se storie. Die onderste bure word geseën met ‘n volle muur. Hulle betaal darem die helfte, sout van die aarde mense.

Na die muur op is, besef my buurman dat ons nie die water, wat altyd teen die helling af donderweer, by sy erf kan deurlaat nie. Dit moet deur die agterste grens gaan. Hy stel so ewe vriendelik voor, ek maak ‘n gat deur die agterste muur. Asof dit so maklik is soos om toilet papier te skeer. Ek begaan ‘n ou foutjie en glo hom.

Die dag wat hierdie gat gemaak word het ek nie eers die hulp van my tuin-tegnikus. Gewapen met geleende hamer en bytel, ‘n boor en my idee van hoe mens deur ‘n fort-muur breek, pak ek hierdie ligte werkie aan. Ek moet net een baksteen aan die onderkant uithaal. Een baksteen het natuurlik ‘n kloon aan die anderkant. Maar díe muur is gebou met oom Paul se daggha. Na baie…, báíé kappe, rooi boorpunte, bloederige hande en verskeurde rug, breek ek deur.

Deurbraak is ‘n besondere, wonderlike ding om te beleef. Mag dit ook so wees in julle geestelike groei.

“Kom gesels saam?”

“Ons deel daagliks gedagtes, vra vrae en ondersteun mekaar as mede rowwe voorstellings van die Een, op ons Facebook page. Word deel van die gemeenskap en stuur ‘n boodskap as jy wil gesels!”

Stay in the loop

Subscribe to KleiTablette for free.

Willem Pretorius