Table of contents
Share Post

‘n Kleipot is nooit ontwerp om self die fontein te wees nie; dit bestaan net om daagliks onder die Meester se stroom gevul te word. Tog pak ons so dikwels vandag se geveg met gister se genade aan, sonder om opnuut op die leiding van die Heilige Gees te wag. Ware geestelike groei begin eers wanneer eie krag plek maak vir konstante afhanklikheid van God.

Ek en Vroulief geniet deesdae al hoe meer die vrolike “herlewing” wat ons op someroggende wakker maak. Dit bly spesiaal om daardie heel eerste vroeë voëltjie in die skemer te hoor. Hy is duidelik die dirigent, want as jy jou weer kry, sing ‘n hele koor uit volle bors tot eer van hul Skepper vir vars genade.

Nou, ons is van nature glad nie oggendmense nie, maar vanoggend het ek daardie eerste voëltjie luid en duidelik gehoor. Dit gebeur gewoonlik wanneer my blaas en maag my ná gisteraand se ekstra glasie Pinotage opjaag. Die Pinotage was natuurlik medisyne vir die spysvertering—met die klem op die spice in die spys.

Ek en Vroulief is lief vir geurige kos, maar dunked wings bly vir my die beste aardse definisie van sonde. Dit proe ongelooflik lekker terwyl jy daaraan smul, maar dit kom herinner jou elke keer op ‘n baie aanvallende manier aan jou keuse. Dan sit jy die volgende oggend heeltemal te vroeg en doen met trane belydenis op die troon.

So sit ek vanoggend broos en ongemaklik van die brand voor ‘n skoon kleitablet. Opnuut tref die besef my dat ek nooit die kragbron is nie, maar net ‘n eenvoudige kleikoppie wat eers deur die Meester gevul moet word om vir ander tot seën te wees.

Daarom skryf ek hierdie woorde vandag heel eerste vir my eie hart. ‘n Dierbare vriend, Andrew De Wet, het onlangs ‘n oordenking met my gedeel wat my diep tot stilstand geruk het. Sy eie volharding in geloof en sy sagmoedige bediening onder verworpenes leef reeds die geheim wat ons so maklik vergeet: ware wysheid begin by eerbiedige afhanklikheid van God.

Spreuke 9:10 leer dat die vrees van die Here die begin van alle wysheid is. Soos Andrew tereg uitwys, is dit nie ‘n krimpende bangwees nie, maar ‘n heilige ontsag wat God eerste stel bo ons eie slimmigheid. Wanneer ons waarlik naby Hom leef, dra ons die sagte, nederige vrug van Jakobus 3:17 in plaas daarvan om volgens Jesaja 5:21 wys te wees in ons eie oë.

Sonder hierdie heilige ontsag raak selfs ons beste bedoelings gevaarlik. John Bevere, skrywer van The Awe of God, vertel van ‘n bekende leraar wat hy in die tronk besoek en gevra het wanneer hy opgehou het om Jesus lief te hê. Sy antwoord was skokkend eerlik: “Ek het nooit opgehou om Jesus lief te hê nie; ek het God net nie gevrees nie.”

Dit is die ou strik tussen Jerigo en Ai. Nadat twee nederige verkenners in geloof getuig het dat Israel die beloofde land kan inneem, staan die volk voor die gedugte vestingstad Jerigo. Josua raadpleeg die Here en ontvang die vreemdste militêre strategie ooit: stap en sing om die stadsmure totdat dit deur geloof inmekaarstort. Ek is seker die meeste Israeliete het nie verwag dat hierdie vreemde strategie kan werk nie.

Ons klou egter so maklik vas aan gister se suksesvolle resep, terwyl God ons eintlik in ‘n lewende verhouding saam met Hom wil laat heers. Toe die klein stadjie Ai volgende op Israel se pad lê, maak hulle op eie krag staat. Hulle raadpleeg God nie weer in nederigheid nie, en hul selfvertroue lei tot ‘n vernederende loesing.

Dit is presies waar Gideon in Rigters 8 begin gly het. Die Here het doelbewus net 300 man sonder wapens gekies sodat niemand in eie krag kon roem nie. Tog, toe die trotse stam van Efraim kort daarna kom stry omdat hulle uit die eer uitgesluit gevoel het, het Gideon hulle nie na God teruggewys nie. Hy het eerder menslike sielkunde en vleiende woorde ingespan om hul gekrenkte ego’s te streel—en so het menslike logika die Woord vervang.

Kort daarna weier die inwoners van Sukkot en Pniël om vir Gideon se uitgeputte manne brood te gee omdat hulle in sy vermoë twyfel. In plaas daarvan om die Here vir voorsiening te vra, ontplof Gideon uit gekrenkte trots en neem hy wraak sonder enige opdrag van God. Hy martel sy eie volksgenote met woestyndorings, betrek sy jong seun by bloedwraak en eindig met die vyand se goue halssnoere in sy hande—presies soos die vyand waarteen hy geveg het.

Slegs wanneer ons God in volkome ontsag en nederigheid raadpleeg, lyk ons in elke situasie soos Koning Jesus in plaas van soos die wêreld rondom ons. Sonder ‘n suiwere, daaglikse vrees vir die Here dwaal ons geleidelik af, en voor ons ons kom kry, groei daar onkruid in ons hart wat eers soos blomme gelyk het. So beland ons onbewustelik in ‘n geestelike tronk—presies waar Satan ons wil vasketting sodat ons nie in die vryheid en oorwinning van Jesus Christus leef nie.

Hierdie waarskuwing ruk my tot in my binneste, veral wanneer ek dink aan vriende in bediening en die roeping wat die Vader aan ons toevertrou. Soos Tim Keller oor 2 Korintiërs 12 waarsku, bou ons so maklik ‘n vals identiteit op ons uiterlike gawes terwyl ons innerlike afhanklikheid stilweg opdroog. Uit genade laat God dan ‘n doring of ‘n “kruppel-stap” soos by Jakob toe om ons trots te breek voordat ons groot skipbreuk ly.

Julle, hierdie was werklik die moeilikste kleitablet wat ek nog ooit geskryf het. Die bladsy is sopnat van die trane, want ek kan nie vir jou hieroor skryf sonder om eers self in die stof te buig nie. Ek het al te veel kere my eie kop gevolg, van Jerigo na Ai gestap sonder om op Sy stem te wag, en mense langs die pad seergemaak.

Daarom bly daar vandag net een uitweg oor. My gebed is rou en eenvoudig: Vader, vergewe my waar ek op my eie insig gesteun het; neem my terug onder U hand, want ek wil nie ‘n enkele tree sonder U Gees gee nie.

In Matteus 2 het die Wyse Manne na Jesus gesoek; vandag soek wyse mense elke oomblik na Sy wil. Maak elke oggend jou gewone koffiebeker jou “kleipot-gedenklip” voordat jy jou dag aanpak. Hou dit met albei hande vas, lê jou eie planne neer, en fluister die woorde van Rest on Us: “Heilige Gees, kom rus op my—ek beweeg nie sonder U nie.”

Jy hoef nie langer die las van eiewysheid alleen te dra nie. Die Vader se arms staan wyd oop vir elkeen wat moeg gedink en moeg gestry is. As jy vandag smag na ‘n stil ruimte om weer jou ritme onder Sy hand te vind, gesels gerus saam hier by KleiTablette—kom ons leer saam om net klei in Sy hande te wees.

“Kom gesels saam?”

“Ons deel daagliks gedagtes, vra vrae en ondersteun mekaar as mede rowwe voorstellings van die Een, op ons Facebook page. Word deel van die gemeenskap en stuur ‘n boodskap as jy wil gesels!”

Stay in the loop

Subscribe to KleiTablette for free.

Willem Pretorius