Die normale ritme van tyd het al lankal sy alie gesien vandat ons nou al vir meer as sewentien en ‘n kwart maande vas gekluister is in ons huise. Houthuis koors het ons begin kou soos ‘n groot grommige Rottweiler aan ‘n sappige dorper se bladbeen knaag. Met al die pandemiese wegkruipery vir ‘n ding wat jy nie eers met jou eie oge kan bespeur nie, was die enigste uitweg ‘n wegbreek van hierdie warboel.
Gelukkig was daar reeds ‘n staanplek bespreek by ‘n rusplek duskant die dorp Brits. Ek en vroulief en al ons twee kinders sou reeds saam met goeie vrinne daar gaan uitspan. En toe tref die virus tsunami ons reg op die naeltjie. Dit laat ons sommer vooroor vou, en maak ‘n bakkies-bra onwillens die nuwe mode van die dag.
Soos vlak vyf ‘n vier word en dertig weke later ‘n vlak drie, kon ons darem ons bespreking skuif na ‘n nuwe datum in Oktober. Hoe gelukkig was ons nie om ‘n naweek, waar ons drie staanplekke langs mekaar kry, terwyl elke kamper met mening wou wegbreek uit hul ‘covid’ hokke. Ek is seker ons het ook meegeding met nuwe byvoegelinge – mense wat tot bekering gekom het tydens vlak vier en die vars lug van kampering begin ruik het.
So is alles gereël tussen werk en skoolgee van die huis af. Eendag gaan ons nageslagte nie meer praat van kaalvoet oor die Drakensberge nie, hulle gaan praat van tuisbly saam met kinders tydens “lockdown”. Maar dis nou genoeg geween broers en susters. Want so is die waens toe gelaai, fietse se wiele is gepomp en kampkos is versamel. Die Whatsapp groepie is warm ‘gepieng’ oor wat word deur wie gebring en hoe laat spring wie van waar af weg.
Onse eie kroos moes nog die oggend skool toe piekel, maar ons kon darem reël dat hulle saam met ‘n ander voertuig van ons geselskap by die kampplek uitkom. Wat vir my en vroulief die gaping gegee het om nog ‘n laaste paar lekkernye en goete vir die kamp te bekom by Jasmyn in Harties, dis nou Hartebeespoortdam. Onder andere is vrugte vir ‘n vrugteslaai ook aangeskaf en dit het my die geleentheid gegee om ‘n bietjie wysheid met my alwyse vrou te deel. Sy het my alreeds uit soveel verknorsings gered, met al haar wysheid, ek het verplig gevoel om ietsie met haar te deel. Ek verduidelik toe vir haar die pragtige les van ‘n vrugte slaai: Kennis is om te weet dat ‘n avokado ‘n vrug is, maar wysheid is om te weet dat jy dit nie in ‘n vrugteslaai moet gebruik nie!
Nadat ons die laaste goetertjies gekry het, “skiet” ons deur Brits se kant toe. Net voor Brits draai ons regs en na ‘n paar draaie en ‘n kilometer se grondpad stop ons voor die lang swart valboem van Bosveld Oase.
Die wag groet vriendelik en wil weet wat ons staanplek nommer is. Gelukkig het my vriende my per epos laat weet, en kon ek sommer in ‘n paar tikke op my foon dit gou opsoek. Nommer oorhandig en register ingevul beweeg ons aan na die volgende valboem toe. Die ‘arivasie’ by ‘n kamp terrein is vir my baie soos ‘n hindernis baan.
Hier stop nog ‘n wag ons baie vriendelik en verwys ons na die kantoor toe. By die kantoor groet ‘n aangename dame my met ‘n hartlike “welkom” deur ‘n ‘perspeks-skeidings-muur’ wat verhoed dat ons mekaar nie aansteek nie. Ek voel sommer al klaar veilig. Hierdie mense is ingerig vir enige iets. Laaste inligting word geruil en ingevul. Ons kry ons ‘staan-liksens’ en die vrou lig my in, tot my verbasing, dat Donald Trump ook nou Covid het. Ek is sommer nou baie “impressed”.
Ons staanplek was nie ver van die ingang nie en na ‘n vinnige ondersoek blyk dit dat ons eerste is van ons geselskap. Gelukkig is dit nie ons eerste uitstappie na Bosveld Oase toe nie en ons gaan snuffel rond en lig bietjie been by die ander ablusies as voorheen. Ons het gou ook ‘n draai geloop om te kyk of dinge nie dalk verander het nie. Jou wrintiewaar daar was aanbouings aan die gang, maar ons het nie ‘n benul waarvoor dit is nie. Ek en vroulief het natuurlik bespiegel en vir een of ander snaakse rede het ons nie dieselfde gedink nie – hoe dan nou? Terug by ons staanplekke het ek vinnig die perimeter gestap om vir myself ‘n moontlike uitleg van laer trek te besin. Maar ek het myself ook net stilletjies gewaarsku dat my vrinne anders kan dink oor hierdie belangrike sakie.
Dit was nie eers twintig minute nadat ons daar geland het nie, toe daag die eerste gesin op en word daar eers hartlik gegroet en uitgevra oor die reis na hede. Daar word saam beraadslaag oor hoe ons moet laer trek, terwyl ons die dreigende wind en wolke beloer. Nadat ek raad ingewin het van my aansienlik meer gesoute kamper het ons begin afpak.
Tente is oopgerol, pype gelas en penne uit sakkies geskud. Ons was halfpad aan die opslaan, toe ‘n magtige wind kom en my vriend se tent hemelwaarts neem. Gille en grypende hande kon nie die tent se vlug keer nie. Gelukkig was daar ‘n droë doringboom so ‘n paar meter aan wat bereid was om te help. Die doringboom staan toe ‘n paar van sy ‘arms’ af in ‘n onbaatsugtige opoffering om die tent vas te gryp en te hou totdat ons tot verhaal kon kom. ‘n Wonderlike samaritaan en sy vrou wat daar naby was spring toe ook in om te help. Maar toe ons die tent wou neem by die doringboom steek die ‘natuurlike ridder’ vas en wil nie laat gaan nie. Dit kos ‘n gekoördineerde op en af geskuiwery terwyl die tent se baas dit een vir een uit die dorings haal en instruksies skree oor wanneer dit op of af moet gaan. Het dit nie self bespeur nie maar ek dink ‘n paar ander kampers het nader gestaan om hierdie petalje met verligte glimlagte te bewonder.
Ons maak sommer net daar ook vriende met die samaritaan en sy vrou en bedank hulle innig vir die hulp. Dis die tipe goed wat jou oë bietjie waterig maak en jou bors laat swel om ‘n kamper te wees.
Nadat ons oor en weer help om die tente in die lug te kry en die ankers so gou as moontlik in die grond, kan ons die eerste koue bier knak en met verligting op ‘n kampstoel neersak.
Ons het nie lank so gesit nie toe daag ons laaste gesin op, saam met ons eie kroos. Die opgewondenheid van ‘n kind is soos statiese elektrisiteit en dit laat jou vergeet van al die pyn en bekommernis wat hulle veroorsaak.
Karavaan word met behendige handgebare in getru, stutte word laat sak en na ‘n paar uur is ons klaar en word die vure aan gesteek. Ten spyte van die koue wind is die kuier en samesyn warm en verdwyn die stad en inperking se sorge soos die braaivleisvure se rook oor die terrein heen.
Die Bosveld Oase is ‘n heerlike kamp terrein en ek sal dit met gemak vir enige kamper aanbeveel. Dit is naby Gauteng se metro. Die hele kampterrein is bedek onder groen gras. Daar is ‘n dam met vis vir vang en laat gaan. Daar is ‘n warm onderdak swembad, hoë en medium supertjoepe ook. Put-put. Groot skaak. Trampoliens. Speel kamer met TV. Geplaveide paadjies waar die kinders heeldag kan fiets, ‘Jay bord’, ‘hoverboard’, stootfiets, ‘Go-kart’ en vele meer kan ry. Die twee winkels het meer as die nodige, waar ons goedkoop hout en ys gekry het. Geriewe word dag en nag gediens. Mens voel ook nie beknop nie. Ek het ook chalets gesien wat bespreek kan word.
So val ons die aand flou en waak die volgende oggend met grote nood vir die toilet, net om weer terug te klim want die kinders slaap nog steeds na al gister middag se swem, fietsry, hardloop en uitbundige lag. O die saligheid van moeë kinders.
Die son jaag ons uit die tent en koffie en beskuit troos ons met diepe deernis. Die kinders was al in elke een van die drie groot swembaddens op die terrein voor ons ‘n tweede koffie geskink kry. Kampstoele word in ‘n sirkel gepak onder die kazeebo en daar word verder gekuier en bespiegel oor hoe dinge gaan lyk in die volgende drie en twintig en ‘n derde maande.
‘Brunch’ het bestaan uit twee soorte ‘bacon’, twee soorte worsies, twee tipes eier, ‘hashbrowns’, roosterbrood, POEF en dit alles verdwyn in ons maage en daar spaander die kinders weer om nie gesien te word vir ‘n laaang wyle. Ons ou mense sit en kuier verder. Blokkiesraaisels word uitgelê terwyl die mans jag gewere in detail uit mekaar haal met net ‘n paar woorde. Na genoeg gesittery het die oues ook by die kinders in die warm swembad gaan aansluit en daar word soos seekoeie vir ‘n hele uur en ‘n half geweek. Ek verstaan nou nog nie hoekom vroulief glad nie baie ingenome is met hierdie beskrywing nie?
Terug by die laer word ‘n vrugteslaai met bloubessies, aarbeie, piesangs, druiwe en natuurlik papaja aan mekaar geslaan. Dit is binne hierdie slaai dat daar ‘n slinkse papajapit wegkruip en onder die dekmantel van romerige geel vla my mond infiltreer. Hierdie skelm pit kom en verwyder een van my talle stopsels tydens ek ‘seconds’ geniet. Noudat ek dit so skryf, wonder ek hoe goed ‘n tweede skeppery was. Gelukkig is dit ‘n tand sonder senuwee en was die pyn lig, maar die skade is gemaak. Ek het vir vroulief gekyk en my kyk het haar alles vertel. Sy het net liefdevol geknik op ‘n manier om te vra of alles reg is. Ek het soos Rambo my duim opgelig en aan gehou eet.
Laat middag het ons rugby besigtig, iets wat ons baie min hierdie seisoen gesien het. Dinge voel sommer weer ‘n bietjie meer normaal.
Die aand het ons ook bygedra tot die verruklike aroma van talle braaivleisvure in die kamp – so ‘n tipe ‘dankie-sê’ offer vir al die voor regte waarmee ons soms algemeen raak. Ons het tot laat nog gekuier voor ons een vir een die bed gaan opsoek het.
Volgende oggend het ons blase ons weer uit die bed gejaag en jou wrintiewaar slaap die kinders nog, so ons kruip natuurlik weer terug en lê vir ‘n ekstra uurtjie lepel. Net voor ons aantrek besin ek oor hoe klein ons blase geraak het met inperking. Ek skryf dit maar toe aan hoe naby ons aan die toilet is hier in die huis.
Brekfis bestaan uit ‘leftovers’ en beskuit. Daar word weer geswem en fiets gery en gekuier en vir afsluiting kraak ons ‘n roomys. ‘n Paar fotos word geneem as herdenkings van ‘n welverdiende wegbreek.
Gelukkig geen vlieënde tente met die afslaan.
Oppad terug kon ek nie anders as om my tong in die gat in my tand te steek nie. Dit aktiveer ‘n gedagte en terwyl ek die kar stuur kan ek net glimlag. Dalk is hierdie virus soos ‘n slinkse papajapit wat insluip en ‘n stopsel kraak. Dit gaan nie maak dat ek nou ophou kamp nie. Ja, die lewe gaan aan. Virusse is al lankal saam met ons, net soos papajapitte. Maar gaan ons nou ophou eet om seker te maak dat ons nie papajapitte in ons monde kry nie of gaan ons die beste stappe neem om te sorg dit beland nie weer tussen ons tande nie?
Dit was ‘n heerlike weg breek wat nodig is vir die siel terwyl ons sin maak van al die malligheid daar buite. Ek het soos ‘n nuwe mens al moes ek ‘n paar “harde” lesse leer. Ek weet sommer oor byna dertien en ‘n agtste maande sal Bosveld Oase my weer sien.

